Want to know more about the Etzebeth legend? If you understand Die Taal you have it right here.
Written by Dana Snyman in 2010
Dis asof die Goodwood-sportklub se kroeg effe stiller raak toe Cliffie Etzebeth
by die deur instap met sy lang lyf. Party ouens staar na hom. Ander probeer maak
of hulle nie staar nie. Dis asof almal wag vir iets om te gebeur, maar Cliffie
laat rus net sy knobbelrige hande op die toonbank en sê so onderlangs: “Kry ’n
mens nie iets hier om te drink nie?”
“Kom help vir Clifford!” roep iemand. “Bring vir Clifford ’n dop!”
Die kroegvrou skarrel nader. Niemand wil moeilikheid hê nie, want Cliffie is mos
’n Etzebeth – een van dáái Etzebeths.
Min mense in die Kaap het nog nie van die rowwe Etzebeths gehoor nie. Ook in die
Noorde weet mense van hulle, want Cliffie het op sy dag op stut en slot vir die
WP gesak. Hy en sy oorlede broer, Skattie, was ook Springbok-stoeiers. Oral hoor
jy stories oor hulle: Hoe rof hulle op die rugbyveld was. Hoe Cliffie daai aand
in daai kroeg daai ou geslaan het. Hoe Skattie glo eenkeer ’n sigaret op ’n ou
se bolip doodgedruk het . . . Probleme, probleme, probleme.
Cliffie kry ’n bier en gaan sit by ’n tafeltjie met ’n plastiekkleedjie oor. Ek
gaan sit langs hom, want as jare lange WP-ondersteuner wou ek hom nog altyd
ontmoet. Cliffie het onder meer in 1977 in daardie wedstryd op Loftus gespeel
toe Morné du Plessis vir Naas Botha bewusteloos geduik het – en byna ’n
burgeroorlog in Suid-Afrika ontketen het.
Maar eers gesels Cliffie oor Bakkies Botha. Baie ouens hier praat vanaand oor
Bakkies, wat Saterdag mos weer van die veld gejaag is.
“Bakkies is dom, man.” Cliffie se stem is sag, amper té sag. “Hoe kan jy ’n ou
oop en bloot met die kop slaat? Jy kyk mos eers waar die skeidsregter is. Morné
was die beste daarmee. Hy’t jou met die elmboog geslaat, of die knie. Maar daai
tyd was dit makliker. Die vlagman het nie ’n sê gehad nie. Jy kon die ou voor
die vlagman slaan, hy kon niks doen nie.”
Destyds is geglo elke goeie rugbyspan moet ’n meanie hê. Iemand soos Cliffie vir
die WP, of Moaner van Heerden van die Blou Bulle, of Kevin de Klerk van
Transvaal.
David Briers, ’n ou vriend van Cliffie wat self ook ’n Springbok-stoeier is, kom
sit by ons by die tafeltjie. “Het jy hom al vertel hoe julle jou pa se duiwe
geëet het?” vra hy.
Cliffie wens hy kon deesdae rugby gespeel het. “Hierdie ouens van nou word
betaal. Hulle het die tyd om te oefen. Ons het twee keer ’n week geoefen. Jy kry
R5 vir ’n oefening. As jy ’n wegwedstryd speel, kry jy R30. Hulle gee vir jou so
’n bruin koevertjie. Op die vliegtuig op pad terug gooi ons almal ons geld
bymekaar. Dan kies elke man ’n nommer. Dan trek iemand die nommers, dan kry die
wenner al die geld. Dok Augey Cohen, ons spandokter, het dikwels die geld
gewen.”
Cliffie kyk na sy hande asof hy self verbaas is oor al die knoppe en skewe
vingers. Hy het in Epping, ’n voorstad hier naby, grootgeraak. Sy pa, Stoffel,
was ’n werker op die Spoorweë.
“Ons was nege kinders – daar was daai tyd mos nog nie TV nie.” Cliffie druk ’n
glimlaggie uit. “In my pa-hulle se kamer het sommer drie wiegies vol kinders
gestaan. Vier van ons broers het saam op ’n bed geslaap.”
“Vertel van die duiwe,” por David hom weer aan.
Cliffie bly ’n ruk stil. “Skattie was eintlik die moeilike een.” Skattie was die
oudste broer en is in 1993 doodgeskiet terwyl hy besig was om skuldinvordering
in Belhar te doen.
Cliffie trek met sy glas ’n wye kring oor die tafel. “Ons moes ná skool gaan
werk. Ek en Skattie was saans nog bouncers ook, vir ekstra geld. Daai tyd mag jy
nog ’n ou gedonner het. Partykeer as daar nie iets is om te slaan nie, dan sê
Skattie: ‘Dis einde van die maand, kom ons sak gou Central Hotel toe. Die
Spoorweg-ouens het geld gekry.’ ”
“Hoe begin ’n mens ’n bakleiery met iemand wat niks aan jou gedoen het nie?” vra
ek.
“Maklik. Jy vat net sy drank af.” Cliffie lag nie.
Maar blykbaar is nie al die stories oor die Etzebeths waar nie. “Die ouens las
sterte by. Een aand staan ek en Skattie weer in die Goodwood Hotel. Ons praat
rugby. Een ou vra vir Skattie: ‘Ken jy die Etzebeths?’ Skattie sê: ‘Ja, ek ken
hulle.’ Toe vertel die ou vir Skattie hoe het hy ons al gedonner.” Cliffie skud
sy kop. “Toe rol Skattie maar die ou om.”
Dit was ook nie Skattie wat die sigaret op die ou se lip doodgedruk het nie – hy
het die ou gaan help op wie se lip die sigaret doodgedruk is.
“Dit was in die ou Duikboot-kroeg by Nuweland. Ek en Skattie staan die Saterdag
daar. Hier kom sê ’n ou: ‘Skattie, iemand druk sommer sy siegret om my lip dood,
man.’ Skattie sê vir hom: ‘Wys vir my die ou.’
“Toe wys die ou na drie sulke groot manne. Ek dog Skattie slaat een van hulle
dood, so skreeu daai ou.”
Cliffie se stem raak nog sagter wanneer hy oor oorlede Dok Craven en oorlede oom
Boy Louw praat. In ’n sekere sin het rugby en stoei sy lewe gered. Daarin kon hy
die frustrasies van ’n swaarkrylewe in Epping uitwoed.
“Oom Boy het my Ez-te-beth genoem, nie Etzebeth nie. Daai dag toe Morné vir Naas so gerol het op Loftus, toe kom oom Boy voor die wedstryd na my toe en sê:
‘Ez-te-beth, vanmiddag is jou derde wedstryd vir Provinsie. Vanaand kry jy jou
baadjie. Wys hulle wie die ware jy is.”
’n Langerige stilte.
“Ek weet nie of mense besef nie, maar daai mense in Pretoria wou vir Morné daai
dag doodmaak. Ná die wedstryd toe skree ’n poliesman vir Morné: ‘As ek nie my
uniform aangehad het nie, het ek jou nou gedonner, Du Plessis!’
Toe sê oom Boy vir my en Flip van der Merwe: ‘Manne, julle twee pas vanaand vir Morné op.’ Toe kry Flip ’n kas Amstel. Toe gee ons vir Morné die klomp Amstel en sê hy moet in die hotelkamer bly, ons gaan eers paartie hou. Later die aand toe ons terugkom by die hotel, toe is Morné darem nog orraait. Toe gee Morné vir ons ook Amstel.”
So drie jaar voor sy dood het Skattie tot bekering gekom. Hy het die bakleiery
gelos. Op Facebook is deesdae selfs ’n blad: “In memory of Skattie Etzebeth.”
“Skattie is ’n goeie ou dood,” sê Cliffie. “Jy moes sy begrafnis gesien het. Dok
Craven-hulle het met ’n Kombi van Stellenbosch af gekom.”
Cliff maak weer ’n kring met die bottel voor hom op die tafel.
“Ons het nie altyd genoeg kos gehad toe ons kinders was, dan skiet ons
tortelduiwe met die kettie, dan maak my ma vir ons sop. Later toe raak die
tortelduiwe min, toe vat ons sommer twee van my pa se vliegduiwe.”
Deesdae werk Cliffie vir die Kaapse stadsraad. Hy is geskei, maar het ’n nuwe
vriendin. Hy is president van die Goodwood-stoeiklub en stoei op die ouderdom
van 61 steeds. Binnekort gaan hy aan die wêreldkampioenskapstoernooi vir
veteraanstoeiers in Switserland deelneem.
Netnou het ’n dronkerige kêrel in ons rigting geskreeu: “Slaat hulle uitmekaar
uit, ek sê!” Maar Cliffie het dit nie gehoor nie. Of hy het gemaak of hy nie
hoor nie.
Baie dinge in die lewe kan jy nie reg slaan nie, het hy al geleer. Ons almal wil
mos goeie ouens doodgaan.









July 26th, 2012 at 7:08 pm
I thought this was too good not to share
with those who have a command of Afrikaans.
July 26th, 2012 at 8:22 pm
Dankie Boertjie, het dit baie geniet. Goed om te hoor Eben het ‘enforser’ bloed. Hy gaan net beter word met tyd. Ek is mal oor Dana se skryfwerk. As jy nog nie sy nuwe boek ‘Hiervandaan’ gelees het nie, skaf hom gerus aan. Dit is baie goed geskryf, en gee ‘n interresante perspektief oor hoe ons hier in Suid Afrika hoort.
July 26th, 2012 at 8:52 pm
Hoe pas die ou legendes in by Eben Etzebeth?
July 26th, 2012 at 9:09 pm
Reply to Welshbok die Brandwag @ 8:52 pm:
Harry was een van hulle broers.
Cliffie het verlede jaar ‘n goue
medalje vir veteraanstoeiers oorsee
gewen.
July 26th, 2012 at 11:33 pm
Dis fokken briljant Boertjie… en uitstekend geskryf ook!
July 27th, 2012 at 3:01 am
This Soutie is glad he had to learn the taal at school when you read well written pieces like this. Having grown up in the Southern Suburbs of Cape Town it was like a re-enactment of the Boerwar every time we played the guys from behind the boerewors curtain. I can imagine the pub in Goodwood and smell the stale smoke and beer smell when the writer says
“Kom help vir Clifford!” roep iemand. “Bring vir Clifford ’n dop!”
Die kroegvrou skarrel nader. Niemand wil moeilikheid hê nie!
He he – Eben has a hard tradition to follow. Good luck to the Stormers tomorrow!
July 27th, 2012 at 8:53 am
Great story. Having met Eben (and his younger brother Ryan) on a few occasions I can say that he is a humble, polite guy with a quiet but confident air about him.
What impresses you most when you first meet him though is the sheer size of the guy. He is very tall, but more than that is built like a heavy-weight boxer. An intimidating combination.
If he can stay injury free (and AC doesnt play him into the ground early) he has the potential to become a great in the Bakkies Botha mold.
Time will tell, but I will be watching with great anticipation.