Waar is die Kings se swartes?

October 21, 2012
Posted by

Die Mol, rubriekskrywer in Rapport, wil stappe doen teen die Kings se verwaarlosing van sy swart spelers.

Die Mol, Rapport

Welcome to the big league, Cheeky.

Siestog, Die Mol kry die ewig irriterende meneertjie Watson vandag eintlik bitter jammer.

Dié lastige raasbek het Vrydagaand tot sy groot skok agtergekom die Cheetahs is nie papiertiertjies nie toe hulle sy magtige Oos-Kaapse Konings-troepies op ’n drafstap verslind het.

Ja, Cheeky, Curriebeker-rugby is nie vir sissies nie. Dít het jy darem seker nou vir jouself in Bloemfontein gesien.

En glo my, Cheeky, die naweek in Port Elizabeth gaan die Vrystaters jou spannetjie nog verder verwoes.

Die Mol ken die Rosestad se mense. Hulle is baie gaaf, maar jy vat nie sommer wat hulle s’n is nie. Hulle is nie die Leeus wat jy sommer kan uitskop nie – hulle sal tot die dood toe baklei.

Cheeky, Die Mol gaan nie vandag met jou baklei oor jou hulpelose spannetjie en die feit dat julle glad nie verdien om aanstaande jaar Super-rugby te speel nie.

Wat Die Mol wel vandag gaan doen, is om jou te waarsku dat hy by Saru gaan kla dat julle teen transformasie is.

Die Mol het Vrydagaand saam met vrinde gekuier en die druiwesappies het maar gevloei, maar in ’n stadium het dit vir hom gelyk of daar geen spelers van kleur aan die Kings se kant van die veld was nie.

Het Die Mol reg gesien, Cheeky?

Indien Die Mol se oë hom nie in die steek gelaat het nie, is dit ’n skande dat die Kings ’n leliewit-span in die veld stoot. Sies Cheeky, skaam julle.

Jurie, Die Mol vra ’n dringende ondersoek na die Kings se sake en hul powere transformasie-rekord. Transformasie en die ontwikkeling van die spel in die agtergeblewe gemeenskappe was een van die hoofredes vir die Kings se Super-toelating.

Aan Saru dus: Die Mol versoek ’n amptelike ondersoek na die Kings se optrede wat betref spelers van kleur. Indien hierdie skrywe nie genoegsame rede vir Saru is om ondersoek in te stel nie, laat weet asseblief Die Mol sodat hy dan die nodige papierwerk kan invul vir hierdie sakie om op die spits gedryf te word.

Só kan dit nie aangaan dáár in die Oos-Kaap nie.

Post to Twitter Post to Facebook Post to MySpace

2 Comments

  1. avatar Golden Earring says:
    October 21st, 2012 at 6:54 am

    Beste Oom Mol,
    As n kind wat nie heeltemal onder die apartheid ding grootgeword het nie en daarom nie alles daarvan verstaan nie, moet ek jou egter net n ander perspektief op die Cheeky situasie gee.

    Sien, soos ek dit verstaan en lees, was Cheeky, die dag toe hy besluit het om eerder in n Township te gaan Rugby Speel, as in die Dorp, die alleen oorsaak dat daar vandag nie meer apartheid is nie. Hy het apartheid gestop!

    En daarom is geen reels op hom van toepassing nie.

  2. avatar Jacques(Bunny)Morne Steyn is Baas says:
    October 21st, 2012 at 9:37 am

    Ek het self so teen halftyd gesien dat hier geen trasformasie plaas vind behalwe dat die Cheetahs getrasformeer het in die span wat hulle moes wees in die CC.

    Die selfde rede dat daar amper geen spelers van kleur in die EP span was nie gaan daar ook geen tot nul spelers van die streek in hulle Supershit span wees nie. DIt is hoekom hy net will koop.

Switch to our mobile site