SA Rugby kry ‘n F vir 2012

November 4, 2012
Posted by

Soos dinge einde van die jaar se kant toe staan voel ek dit is bietjie tyd om SA Rugby te evalueer vir die jaar 2012.

Daar is nog wel ’n toer waarop die Springbokke vertrek het die naweek maar hierdie rapport kaart is nie juis vir wat op die speelveld gebeur het nie, maar meer wat agter die skerms aangaan.

Om dinge maklik te maak begin ons sommer maar by die begin en hoe dinge van Januarie gebeur het.

Aanstelling van die Springbok Afrigter (G)

Dinge het glad nie goed begin vir SA Rugby nie.  Na ’n baie swak Rugby-Wêreldbeker waar die Bokke in die kwarteindrondte uitgeskakel was deur Bryce Lawrence, askuus, Australië moes SA Rugby vinnig aan die werk spring om die vertroue van die ondersteuners terug te wen.

Ongelukkig vir SA Rugby en sy ondersteuners was dit nog ’n voortgeploeter van die rugby base wat bepaal het dat Heyneke Meyer amper 4 maande na die Wêreldbeker-toernooi eers formeel aangestel is.

Met meeste spanne al klaar druk besig met Super Rugby voorbereiding het dit Meyer lelik op die agtervoet geplaas veral met die oog op die aanstelling van sy bestuurspan wat op die ou end meer ’n kwessie was van wie beskikbaar was as wie hy sou wou hê.

Die Super Rugby debakel (G)

Ook in Januarie moes ons hoor hoe die Oostelike Provinsie se Kings verseker was van ’n Super Rugby posisie in 2013.  Eers het SA Rugby base probeer om hulle SANZAR vriende te oorreed om die kompetisie struktuur te verander (wat nooit sou gebeur nie) en toe probeer hulle om 5 in 6 te deel.

Nou ek was nie moer goed in wiskunde op skool nie maar ek kon hulle in Januarie al gesê het dit sal nie werk nie – dit het hulle tot Augustus toe gevat om die somme te maak.

Die grootste grap van die besluit is dat nie die Kings (wat in is) óf die Leeus (wat uit is) gelukkig is met die besluit nie!

Semi-professionele kompetisies (B)

As daar wel ’n veertjie in die hoed geplaas kan word vir die SA Rugby base is dit vir die werk wat ingesit word in die Varsity Cup en klub toernooie in ons land.  Die Varsity Cup is een van ons grootste suksesverhale in professionele rugby en met SA Rugby se planne om die klubrugby kompetisie ook aan te pas lyk dit of die twee areas van ons spel en administrasie goed aan die gang is.

Een area van bekommernis is nog steeds die ellendige Vodacom Cup toernooi.  Dat die toernooi sy doel dien om diepte aan Super Rugby spanne te verskaf tydens hulle toernooi is nou wel sigbaar, maar die vader weet ek kan nie sien hoe mense nog die kompetisie as belangrik of opwindend sien nie.

Super Rugby (F)

Afgesien van die Kings debakel is ons deur nog ’n langdradige Super Rugby reeks wat kykersgetalle toegeneem het, maar stadium-syfers nog steeds daal.  Daar is al genoeg gesê oor SA Rugby se besluit as die grootste media vennoot om voor die Aussies te buk en pak slae te vat maar sekerlik moet daar iewers in die gange van SA Rugby gefluister word oor die fiasko?

Currie-beker (D)

Die Currie-beker kompetisie het hierdie jaar net uit ses spanne bestaan as die sogenaamde ‘krag-teen-krag’ opsie vir die kompetisie.  Ek het nie juis ’n probleem daarmee nie, maar sekerlik as jy net ses spanne het hoekom moet daar nog ’n halfeindrondte gespeel word waar die top 4 (van net 6) gaan speel?

Dit daargelaat dit is nog duidelik dat die kompetisie die moedersmelk van ons rugby is as jy die passie van die ondersteuners oplet.  ’n Area van kommer nog steeds is die massiewe gaping tussen ons eerste divisie spanne en ons premier divisie spanne (asook die verskil wat Bokke maak op hulle terugkeer).  Daar moet eenvoudig meer gedoen word om die gaping kleiner te maak as hulle wil hê ons moet promosie, relegasie ernstig opneem.  En het ons werklik die Bokke nodig vir net 2 of 3 wedstryde aan die einde?

Transformasie (F)

Doen maar wat jy wil, maar dit gaan nie weggaan nie en as SA Rugby gedink het die Kings gaan vir hulle tyd koop in die aspek sou hulle vinnig besef het dat politieke praatjies nie op die rugbyveld werk nie.  Op tye in die promosie, relegasie wedstryde was die Kings witter as die truie van die Cheetahs.

SA Rugby het verlede week ’n plan bekend gemaak om transformasie in rugby aan te pak maar verskoon my as ek nie op en afspring nie, ek het al ’n te veel van hulle gesien in die laaste 15 jaar om te glo hierdie een gaan anders wees – maar kom ons kyk maar.

Opsomming

2012 was nie die beste jaar vir ons administrateurs nie, van die geploeter met die Springbok afrigter, tot die Kings debakel is daar nie veel om uit te lig as groot stappe vorentoe nie.  Waar ek vir Varsity Cup en klubrugby ’n bo-gemiddelde B sal gee op die rapport kaart en miskien ’n D vir die Currie-beker is daar heeltemal te veel F’s en G’s op die kaart.

Dit sal SA Rugby ook baat om op te let dat deur middel van sosiale media jou gemiddelde ondersteuner veel meer toegang het tot informasie en jy nie maklik kan wegkruip nie.  Die afgelope paar maande het ek vir die eerste keer in jare gesien hoe meer mense die regte vrae begin vra en dit gaan nie lank wees voor die regte individue ge-identifiseer gaan word nie.  Waar julle vroeër agter die skerms kon skuil word daardie skerms stadig maar seker gelig.

SA Rugby kry ’n F van my vir hulle rapport kaart vir 2012.  Nie dat dit saak maak nie, want waar ek gedonner was vir so iets op my rapport aanvaar ons deesdae hierdie soort uitslag as goed genoeg om vir ’n loopbaan in die mediese professie te gaan studeer.

Post to Twitter Post to Facebook Post to MySpace

Tags: ,

3 Comments

  1. avatar Boertjie says:
    November 5th, 2012 at 12:56 am

    Net jammer jy gaan nie, soos Brendon, ‘n
    antwoord hierop kry nie.
    Nie eens as jy dit vertaal en vir
    Andries Kalkoen stuur nie.

    En die toetse word nou gespeel met die
    scraps wat oorbly en nog kan loop.
    HM kla hieroor, maar dit gaan hy nie
    verander kry nie.

  2. avatar out wide says:
    November 5th, 2012 at 2:29 am

    2012 was nie die beste jaar vir ons administrateurs nie – you are being too kind to them Morne. Most of the stuffups mentioned in your report card lie at their door and if this was a business they might be worrying about their futures. When did SA rugby administrators last have a good year anyway?

  3. avatar out wide says:
    November 5th, 2012 at 3:02 am

    Re criticism of the Currie Cup setup, the NZ equivalent, or ITM cup is divided into 14 teams,7 in the Premiership 1st division and 7 in the Championship or 2nd division. Games are played across division (4 games) and within division (6 games)and it is most successful with a live game on tv virtually every day of the week. Should Currie Cup teams play a few games across divisions against Vodacom teams?

    One of your posters said he dislikes the tendency to follow and “na-aap” the kiwis but when something works, why not look at it? Before someone complains that WP will put 50 points over Boland in such a setup let me tell you that Canterbury (winners of the Premiership division this year again) lost their first game against Tasman who ended semi finalists in the Championship division.

Switch to our mobile site