Mitchell groet die Leeus

November 23, 2012
Posted by

Die Goue Leeus het John Mitchell gister as afrigter gegroet, maar gaan hom steeds vir die volgende jaar betaal.

Pieter Jordaan, Beeld

Ingevolge ’n ooreenkoms wat tussen Mitchell en die GLRU bereik is, sal hy vir die volgende jaar steeds as ’n konsultant vir die Lions en die Leeus optree, hoewel hy nie meer daagliks vir diens hoef aan te meld nie.

Dit gee Mitchell nou ook die geleentheid om as konsultant vir die Sale Sharks in Manchester, vir wie hy in die jare negentigs gespeel het, op te tree.

Hy word ’n geruime tyd reeds met Sale verbind en gaan glo nou daar aanmeld en eers in Februarie terugkeer, waarna hy die Lions van tyd tot tyd sal bystaan.

Nadat hy onlangs vrygespreek is in ’n tugverhoor en sy skorsing van vier maande beëindig is, is daar aanvanklik na maniere gesoek om Mitchell se beweerde gebrekkige verhoudings met Leeus-spelers op te knap.

Dié nuutste verwikkelinge beteken dat Mitchell se betrokkenheid met spansake tot ’n minimum beperk word.

Johan Ackermann, wat tydens Mitchell se skorsing as hoofafrigter waargeneem het, sal dié pos nou voltyds beklee.

Mitchell sal dus grootliks as ’n klankbord vir Ackermann optree.

“Ons glo die nuwe ooreenkoms met John is die ideale alternatief vir die Goue Leeus,” het die GLRU se president, Kevin de Klerk, gesê.

“Dit is ’n wonderlike geleentheid vir ons om John se vaardighede aan te wend, terwyl ’n belowende afrigter soos Johan die kans kry om sy stempel af te druk en te ontwikkel.”

De Klerk het Mitchell, wat as hoofafrigter glo ook op verskeie geleenthede met die uniebestuur koppe gestamp het, vir sy insette bedank.

“Ons wil John bedank vir sy bydrae tot dusver en hom voorspoed toewens met dít wat hy vorentoe aanpak,” het De Klerk gesê.

Ingevolge die ooreenkoms staan dit Mitchell vry om enige ander konsultasiewerk, soos by Sale, te doen. Hy mag wel nie enige ander Suid-Afrikaanse span van raad bedien nie.

Mitchell het in ’n verklaring gesê hy is dankbaar dat die Leeus se bestuur sy behoefte om by die Leeus betrokke te bly ondersteun en dat hy “toegelaat word om ander rugby-verwante geleenthede te oorweeg”.

“Ek is daartoe verbind om die Leeus en Johan Ackermann in die herbouproses te help.

“Ek het nog onafgehandelde sake met die Leeus en die nuwe ooreenkoms sal my help om die span te kry dat hy sy doelwitte bereik,” het Mitchell gesê.

- Die Leeus het intussen ook die koms van verskeie aanwinste in hul oefengroep vandeesweek bevestig.
Hulle is Lionel Cronjé (losskakel), Franco Mostert (slot), Jacques van Rooyen (stut), Robbie Coetzee (haker), Hugo Kloppers (slot), JJ Breet (slot), Stokkies Hanekom (senter) en Kobus de Kock (heelagter).

Post to Twitter Post to Facebook Post to MySpace

4 Comments

  1. avatar Duiwel says:
    November 24th, 2012 at 12:06 am

    Vir wat presies was hy betug?
    Duur ou lessie!
    Moët die Transvaal n fortuin kos

  2. avatar DavidS says:
    November 24th, 2012 at 6:34 pm

    Reply to Duiwel @ 12:06 am:

    Miskien moet jy eers teruggaan en gaan kyk.

    Transvaal het 100% korrek ingevolge SA se arbeidsregte opgetree en nou wanneer hulle die probleem oplos is dit ‘n duur les…

    Jis maar jy’s ‘n suur ou drol…

  3. avatar Golden Earring says:
    November 26th, 2012 at 9:45 am

    ……dis mos die wet van transvaal!

  4. avatar Craven says:
    November 27th, 2012 at 9:13 am

    Reply to DavidS @ 6:34 pm:

    Mag dalk wees, maar die feit dat die arbitrasie proses John onskuldig bevind het wys dat Kevin en sy makkers oorhaastig opgetree het om John so vinnig te wou “disiplineer”.

    As Die Leeus die situasie beter hanteer het sou dit nie so ‘n duur storie gewees het nie, so dit is ‘n les wat geleer moet word. En waar was al daai spelers wat so hard gekla het? Die manne wou nie eers getuig in die verhoor nie. As hulle dan so sterk daaroor gevoel het wat het in tussen gebeur? Moet die banne bietjie “balls” kry of wat?

    Nee wat, die hele storie, saam met die patetiese afdanking van Spencer-hulle via e-mail, dui net op ‘n klomp amateurs wat hulle self as proffesioneel voorhou.

    En dan praat ons nie eers van die feit dat hulle die Pumas en Luiperds wou indoen met winste van Superugby nie.

Switch to our mobile site