Juan Smith hang sy stewels op

February 11, 2013
Posted by

Legendariese Springbok en Cheetahs losvoorspeler, Juan Smith, sal finaal sy stewels ophang.

Hendrik Cronje – Volksblad

Hy het die afgelope twee jaar ondanks vier operasies moedig vir sy ondersteuners probeer terugveg.

Maar die Springbok-flank Juan Smith het Maandag weens ’n hakseningbesering geen ander keuse gehad as om finaal die gordyn oor sy suksesvolle rugbyloopbaan te laat sak nie.

“Was dit nie vir die ondersteuners en my gesin nie, het ek waarskynlik veel vroeër besluit om weens my besering my uittrede aan te kondig,” het ’n teleurgestelde Smith gesê.

Hy veg al reeds sedert Februarie 2011 met sy besering wat hy in ’n Super-wedstryd teen die Bulle opgedoen het.

“Maar dit was die ondersteuners wat my elke keer ná die teleurstelling van ’n operasie die moed laat bymekaarskraap het om weer vanjaar tot die rugbyveld te probeer terugkeer.

Ek waardeer al die ondersteuning wat ek deur die jare by my gesin, die Bok- en veral Vrystaat-ondersteuners gekry het.”

Die 31-jarige Smith het verlede Saterdag ná ’n afwesigheid van twee jaar eindelik sy terugkeer in die Cheetahs-kragmeting teen die Stormers gemaak.

Hy het ook die afgelope naweek in Polokwane goeie spel in ’n oefenwedstryd teen die Bulle gelewer. Maar ná ’n skandering Maandagoggend, het Smith – ’n lid van die wenspanne van die Wêreldbeker (2007), Curriebeker (2005) en Drienasiebeker (2009) – besluit om sy stewels weg te pak.

Een ondersteuner vir wie Smith uitgesonder het, is Tat Botha, bekende en gevierde Kovsie-rugbyafrigter.

“Hy is beslis ook die mens wat die grootste invloed op my rugbyloopbaan gehad het. Was dit nie vir oom Tat nie, sou ek waarskynlik niks in rugby bereik het nie. “Oom Tat het my raakgesien nadat ek van die Hoërskool JMB Hertzog (in Bloemfontein) gekom het en nie Cravenweek gespeel het nie. Hy het my oortuig om vir die Shimlas te gaan speel waar my loopbaan momentum gekry het.”

Smith het sy buiging in 2002 vir die Vrystaat gemaak en ’n jaar later in Durban as ’n 21-jarige die eerste van sy 69 toetse vir die Bokke gespeel. Slegs tien ander spelers kon in meer toetse vir die Bokke speel. Smith en sy huisgesin vertrek vandag op vakansie.

“Ek sal daar met my vrou (Caroline) oor my toekoms praat. Daar is moontlikhede, maar ek het nog geen besluit geneem nie. Maar ek moet ná die fisieke en geestelike impak van my besering oor die afgelope twee jaar, eers ’n week vakansie gaan hou.”

Eers daarna sal die Bok-flank besluit of hy op ’n ander wyse by rugby betrokke gaan raak.

Post to Twitter Post to Facebook Post to MySpace

Tags: , ,

5 Comments

  1. avatar RUGGA_MIND says:
    February 11th, 2013 at 8:17 pm

    Ai sterkte ou maat jy is n LEGEND

  2. avatar namboer says:
    February 12th, 2013 at 6:01 am

    Groot jammerte, sou rerig graag dat Juan Smith uittree wanneer hy so voel en nié soos dit nou met die besering nie.

    Dankie vir die goeie jare, was ‘n regte yster vir die Staat, Cheetahs en Springbokke.

    …Vat sommer ‘n week ekstra vakansie en hoop die dinge loop mooi na die uittrede.

  3. avatar bryce_in_oz says:
    February 12th, 2013 at 8:33 am

    Damn… one of the greats… oh for just one more season at any level…

  4. avatar Craven says:
    February 12th, 2013 at 8:42 am

    Mooi loop Juan, hopefully you will stay involved in rugby as you are one of the good guys.

  5. avatar The Year of the Cheetah says:
    February 12th, 2013 at 9:44 am

    een of ander skoolspan in bloem gaan n baie handy forwards coach kry binnekort…

Switch to our mobile site