‘Skrumreël moet dadelik verander’

March 25, 2014
Posted by

Scrum - Bath United v Harlequins A

Rugby se skrums is voortdurend onder die soeklig en’n vooraanstaande afrigter voel dat nóg ‘n verandering dadelik gemaak moet word.

Die Blues se afrigter, Sir John Kirwan, is so geïrriteerd met skrums dat hy wil hê dat daar onmiddellik ‘n verandering gemaak moet word.

“Die oplossing is maklik,” het hy aan Fairfax NZ News gesê. “Verander die reël sodat die skrumskakel besluit wanneer om die bal in te sit, pleks dat hy vir ‘n teken van die skeidsregter hoef te wag.”

Kirwan voel ook dat blasers ook te veel op hierdie vaste faset konsentreer en foute in ander fasette van die spel maak.

“Die skrum is ‘n wonderlike deel van die spel, maar ons moet toelaat dat die voordeel gaan aan die span wat die bal insit. As die verdedigers goed genoeg is om die aanvallende span van die bal te druk, het ek geen probleem nie.

“Dis die klein voordeel wat jy het as jy die bal insit – om te weet wanneer dit ingesit word.”

Wat Kirwan nie noem nie, is die toenemende neiging van skrumskakels om die bal weer skeef in te voer nadat daar ‘n ruk lank streng daarteen opgetree is. Hakers wat te vroeg haak, word ook nie gestraf nie en dit is moeilik om te sien hoe Kirwan se aanpassing skrums wat in duie stort gaan voorkom.

Skrums mors baie tyd

Michael Cheika, die Waratahs se afrigter, het dit weer teen die tyd wat skrums in beslag neem en die feit dat dit lyk of niemand omgee nie.

“Die bal behoort binne 30 sekondes nadat die skrum geroep is, in spel te wees,” sê Cheika.

Hy maak dan ‘n ontleding van hoeveel tyd die bal in verskillende sportsoorte in spel is. In Rugby Union is dit ten beste 45 minute (56% van die tyd). Vir Rugby League is dit 60 minute (75%) en in Aussie Rules amper 100% omdat die klok gestop word wanneer die bal nie in spel is nie.

In liga beweeg die bal vinnig oor die veld en die spel word toegelaat om vinnig tussen fases te beweeg. Rugby se voordeel is dat daar gedurig om besit meegeding word wat die belangstelling by die spel hou.

Interessant genoeg is die Amerikaanse NFL die stadigste spel van almal: in ‘n wedstryd van amper vier ure is die bal maar 11 minute (6% van die tyd) in spel. In bofbal is dit 10% en in basketbal 35%. Sokker se syfer is 64 minute van die tyd, maar dan is dit ook vir groot periodes in “dooie spel.”

“Maar,” erken Cheika dan, “dit lyk of die tyd wat met skrums verlore gaan nie ernstig opgeneem word nie, net soos wat daar nie gekla word oor die tyd wat lynstane in beslag neem nie. Of hoe lank nadat die spel vir ‘n besering gestaak is, die horlosie eers gestop word nie.”

Post to Twitter Post to Facebook Post to MySpace

One Comment

  1. avatar DavidS says:
    March 25th, 2014 at 7:29 pm

    So let Krwan just do the Brendon fantasy and make it like league and get over with it…

    ID 10 T error code flashing

Switch to our mobile site