Home Springboks Heyneke en die driejaar-slagyster

Heyneke en die driejaar-slagyster

0
SHARE

Die laaste drie Springbokafrigters se groot probleme het almal in hul derde jaar uitgebreek, en Heyneke Meyer is nou in sy derde jaar aan die stuur.

Lourens van Niekerk, Maroelamedia

Nick Mallett, Jake White en Peter de Villiers het almal hierdie paadjie geloop.

Mallett, wat in 1997-’98 net een van 17 toetse verloor (en die Drienasies in 1998 gewen het), kon in 1999 net 8 uit 13 toetse wen. White se rekord in 2006 was 5 uit 12 en De Villiers s’n in in 2010 4 uit 11.

In al drie gevalle was die insinkings weens hul eie unieke omstandighede.

Mallett se probleem was siklies van aard – spelers wie se toetsloopbane agter die rug was. Hy het ook die swak besluit geneem om Gary Teichmann se kaptein te pos (iets waaroor hy sy spyt al dikwels te kenne gegee het) en die spandinamika het op 1998 se jaareindtoer gely toe hy André Venter vir Bob Skinstad gepos het. En daar was die skielike druk om spelers van kleur te kies – iets waarvoor hy glad nie voorbereid was nie en onder meer sy span op die oggend van ‘n toets moes verander om `n gekleurde speler te kies.

Algehele wenpersentasie: 71%. In sy derde jaar: 62%

♦White het onder dieselfde politiek deurgeloop deurdat hy Luke Watson moes kies. Watson se naam is deur Saru se president Oregon Hoskins ten koste van `n speler wat deur White gekies is by die spanlys gevoeg.

“Ons was ‘n baie goeie verdedigende span en het gesukkel met nuwe personeel. Dis nie dat die nuwe spelers nie goed genoeg was nie, maar ons moes van voor af begin,” het White gesê.

Hy moes onder sulke omstandighede ook die eerste uitgebreide Drienasiestoer onderneem en het ‘n vernederende neerlaag van 0-49 teen die Wallabies op die lyf geloop.

Vir die jaareindtoer het hy spelers ter wille van rus vir die Wêreldbeker (wat hy in 2007 gewen het) uit die span gelaat en teen Ierland en Engeland (een van twee toetse) verloor en was hy byna se werk kwyt nadat die mediadruk ook opgelaai het.

Algehele wenpersentasie: 67%. Derde jaar: 42%.

♦ De Villiers het dwarsdeur sy era ‘n stryd met die media gevoer. Die dinamika wat ingetree het en sy velkleur had moontlik daarmee te doen gehad. (Dan het talle onnosel uitlatings en sêgoed hom dikwels ook die grap en verleentheid vir rugbyliefhebbers gemaak.)

De Villiers het gesê sy probleem in die derde jaar was dat spelers aan hom gewoond geraak het. Hulle het geweet hulle ís deel van sy planne en die motivering het kortgekom.

Algehele wenpersentasie: 63%. Derde jaar: 57%.

Wat is Meyer se groot uitdagings in sy derde jaar?

Daar word meer rugby as ooit gespeel en kondisionering en beserings is ‘n groot probleem. Hy is nooit seker watter Bokke hy uit Japan mag kies nie, maar het tog die voordeel dat hy Europese Springbokke rojaal mag inspan (anders as bv. die All Blacks en die Wallabies).

Hy sukkel egter met spelers in sleutelposisies: die vaskopstut Jannie Du Plessis en die kaptein, Jean de Villiers, is aan die einde van hul loopbane.

“Hierdie groep is darem honger om goed te vaar en besef dis die jaar voor die Wêreldbeker (wat middel-September in Engeland begin). Ek stel dit onomwonde dat niemand sal speel as hy nie 100% van sy tyd vir my en sy land gee nie.

“Ek wil my span baie naby aan gekies hê en glo die spelers sal hulself rig,” is Meyer se kommentaar.

Algehele wenpersentasie as Bokafrigter: 75%.

Facebook Comments