Home Rugby Administration Jurie Roux in knyp oor bedrog

Jurie Roux in knyp oor bedrog

1
SHARE

Die Universiteit Stellenbosch is ongelukkig omdat Saru na bewering `n vertroulikheidsooreenkoms verbreek het deur `n forensiese verslag aan die rugbyliggaam se hoofbeampte, Jurie Roux, bekend te maak.

Volgens Dinsdag se Beeld het die president van Saru, Oregan Hoskins, beloof om die verslag van die universiteit vertroulik te hou en nie aan enige party te wys nie.
Roux, wat sedert 2010 die hoofbeampte van Saru is, is glo deur die Valke ondersoek oor die beweerde onregmatige finansiering van rugbyspelers se klasgelde en verblyfkoste. Spelers wat nie hul beurse kon terugbetaal nie se skuld is glo afgeskryf.

Roux was die voorsitter van die Maties se rugbyklub en was ook die universiteit se senior direkteur van finansies en batebestuur voordat hy die pos by Saru aanvaar het.

Die universiteit het `n forensiese ondersoek aangevra oor die vermoede van die ongemagtigde transaksies.

Volgens Beeld het Saru `n transkripsie van die forensiese verslag van die universiteit aangevra sodat hulle die erns van die aantygings teen Roux kon bepaal. Die universiteit het besluit dat die verslag wel aan Saru vrygestel sal word, maar aan niemand anders getoon sal word nie. Dit is glo so deur Saru aanvaar.

Die universiteit het nou sy ongelukkigheid uitgespreek nadat die verslag blykbaar wél aan Roux getoon is. Hoskins sê sy regsverteenwoordigers het hom aangeraai om die verslag aan Roux se prokureurs te oorhandig.
Saru beskou die bewerings teen Roux glo in `n ernstige lig en sal aan hom die geleentheid gee om die bewerings te verduidelik, berig Beeld.

Facebook Comments