Home Super Rugby Oplossing vir Saru se Kings-dilemma

Oplossing vir Saru se Kings-dilemma

2
SHARE

Die weeskind van Suid-Afrikaanse rugby, die Oostelike Provinsie Kings, gaan die Suid-Afrikaanse rugbybase nog slapelose nagte besorg.

Deur Pieter Kruger, Maroela Media

Die OP is steeds segeloos in vanjaar se Curriebekerreeks – en hoe hard die gewese Nieu-Seelandse losskakel Carlos Spencer ook al probeer afrig, sonder die nodige spelers van gehalte en diepte kan hy maar op sy kop staan.

Ek ys om te dink hoe die Southern Kings in 2016 se Super18-reeks sal vaar. Tensy hul spelersgetalle en -gehalte drasties aangevul word, wag daar groot slae. En daar kan tog nie nóg geld in die unie/franchise ingepomp word nie?

As die huidige OP Kings nie eens `n wedstryd kan wen in `n ietwat verlepte Curriebekerreeks sonder meer as 30 Springbokke nie, wat gaan hulle in die Superreeks vermag? Vergelyk maar hulle huidige spanlys met ene van `n jaar of wat gelede wat in die Superreeks gespeel het. Dit verskil hemelsbreed, en ek twyfel of spelers soos SP Marais, Demeteri Catrakilis, Shaun Venter en Vleis Engelbrecht sal terugkeer.

En onthou, tóé al kon hulle nie die mas opkom nie.

Ek wonder wat van al die praatjies geword het om hul verlore seuns, soos onder andere Dewald en Jacques Potgieter, JJ Engelbrecht en die Ndungane-tweeling terug te lok? En van die gewaande talentpoel in die Oos-Kaap kry ons niks te sien nie. Dit was mos in die eerste plek die rede vir die Kings se status?

Die Kings is darem gespaar, want hul posisie is verskans in volgende jaar se Curriebekerreeks, net soos dié van die Superfranchises – wat beteken dat die WP, Goue Leeus, Sharks, Vrystaat Cheetahs en Blou Bulle nie hoef uit te speel nie, al eindig hulle ook tweede laaste net bo die Kings.

Dit beteken dat een van net twee spanne, Griekwas (11 punte) en die Pumas (19), in `n promosie-relegasiestryd om Curriebekerstatus betrokke kan raak.

Dit begin mos al hoe meer lyk of Griekwas tweede laaste sal eindig en dan die soveelste keer om Curriebekerstatus – straks teen die Luiperds – sal moet uitspeel.

Die Pumas se posisie lyk heel veilig en dis waar hulle `n tameletjie vir die SA rugbybase raak. `n Lekker ene.

Om spelers vas te teken (nie dat kontrakte te veel beteken nie), om nuwe spelers te lok, om te keer dat iemand soos Jimmy Stonehouse in `n ander rigting kyk, móét die SA rugbybase vinnig planne beraam en `n finansiële geelwortel na die Pumas uithang.

Pak die bul by die horings en maak hulle die senior vennoot by een van die Superfranchises.

Daar is eintlik net een opsie, want ons kan maar van die Bulls, Lions, Sharks, Stormers en Cheetahs vergeet.

Sela! Die Kings bly oor!

Die Pumas het die nodige infrastruktuur, bekwame administrateurs, afrigters en spelers wat bereid is om die moue op te rol, `n pragstadion, internasionale lughawe, tonne verblyf en vakansieplekke net `n klipgooi weg, klubrugby wat redelik gesond is en prominente skole. Wanneer die universiteit eers daar behoorlik wortel geskiet het, kan dit jong spelers lok wat in die unie behou kan word.

Ek kan myself voorstel watse gefladder dit in die duiwehok sal veroorsaak, maar as dit werklik oor rugby gaan, is dit die regte een – en dalk `n reddingsboei vir die Kings.

Facebook Comments

2 COMMENTS

  1. Hy kon ook iets gesê het van hul kaptein
    wat op permanente ongeskiktheidspensioen
    met een of ander skeet is.
    R3 miljoen vir 30 minute op die veld klink
    na ‘n winskoop.

    ReplyReply