SHARE

Dok Danie Craven – hy sou Saterdag verjaar het – was geen drinker nie, maar daar was tog die dag toe hy die hoteleienaar gedwing het om ‘n kroeg oop te stel.

Craven was ook ‘n man wat in geregtigheid geglo het en is dikwels deur die apartheidsbeleid gekortwiek, nie net wat rugbytoere betref nie.

Die oud-Springbok Ian Kirkpatrick was saam met Craven op Williston in die Noord-Kaap om ‘n afrigtingskliniek vir anderskleuriges aan te bied, maar die hotel het nie bruin of swart mense toegelaat nie.

Dok het op die telefoon geklim, hoë mense in die regering gebel sodat die kroegie op Williston “internasionale status” sonder kleurbeletsels kan kry (die prosedure wat destyds gegeld het).

Die eienaar het toegestem, maar volgehou dat dié status nie toegang tot die kroeg aan gekleurdes verleen nie. Craven het teengeskop, en toe willig die bestuurder in: Hulle mag in die kroeg kom, maar hulle mag nie drink nie.

Nog proteste van Craven het vir die volgende toegewing gesorg: Hulle mag drank bestel, maar hulle mag nie dans nie.

En aangesien daar geen musiek was nie, het Craven op hierdie laaste punt toegegee.

Kirkpatrick vertel verder dat die hotel nooit sy internasionale status sedert daardie dag in die 1980’s verloor het nie en die hele Wiliston-gemeenskap bedien het. En seker ‘n baie groter wins begin maak het.

Een van die baie stories wat toon presies hoe gerespekteer Mnr. Rugby wêreldwyd was, is die oproep wat hy een dag gekry het.

Dit was in 1973 toe die foon op ‘n baie vroeë Dinsdag gelui het. Die huiseienaar het hom met kamerjas en pantoffels uit die bed gehaas. Dit was goeie nuus: die Marlborough-unie – waarvan Craven die ere-visepresident was – het die Nieu-Seelandse Ranfurly-skild vir die eerste keer gewen. Die gesprek het toe min of meer só verloop:

“Hallo?”
“Danny, you’ll never guess where I’m phoning from!”
“No, please tell me?”
“Danny, I’m phoning you from Ranfurly Shield country!”
“Where is that?”
“Right here where I am, Danny. I’m standing in it and I’m touching the shield!”
“Where are you standing?”
“In the bar, Danny, since Saturday. It’s Tuesday afternoon over here and we’re now heading home to celebrate!”

Rugby was sy groot liefde, maar daar was ook ‘n paar dinge waarin Craven ‘n afkeer gehad het: Die Nasionale Party, die Broederbond en die NG Kerk vir hul rassebeleid, en omdat hy gedurende die Tweede Wêreldoorlog versoek is om ‘n erediens te verlaat omdat mense in uniform die gemeente ontstig . . . (Hy het die weermag met die rang van luitenant-kolonel verlaat.)

Hy was diep gelowig en het nooit getwyfel dat hy hemel toe sal gaan nie, maar het gesê hy sou graag ‘n privaatgesprek met God wil hê voordat daar oor skeidsregters geoordeel word!

Nog ‘n voorbeeld van die respek wat Craven oral ingeboesem het, kom van rugbyskrywers wat ‘n lang pad met hom geloop het:

Norman Canale:
“He could be tough as biltong and gentle as a mother, reasonable and obstinate beyond reason, generous and thoughtful and independent and altogether lovable. Nobody ever questioned his courage. He even took on the granite former Prime Minister John Vorster.”

Dan Retief:
“Wat ek die meeste van hom gehou het, was dat hy die man in beheer van Suid-Afrikaanse rugby was – jy kon hom altyd oor enigiets bel: die Springbokke, spankeuses, professionalisme, vuilspel, die reëls, administrasie, televisieregte of politiek. Hy was eenvoudig die volleerdste en mees gerespekteerde man in rugby.”

Herman le Roux:
“Ek sal hom onthou as die beste, slimste en mees ervare sportadministrateur met wie ek te doen gekry het. Wat Dok gesê het, het saak gemaak. Dit was nuus. Hy was altyd bereid om oor rugby te praat. Dit was sy lewe.”

♦ Daniël Hartman Craven is op 11 Oktober 1910 gebore. Hy is op 4 Januarie 1993 oorlede.

Article by Org Potgieter, Maroela Media

Facebook Comments
SHARE

6 COMMENTS

  1. Ek like Boer…

    Ek onthou gisteraand ‘n staaltjie van die Bokke wat so baie gehou het daarvan om gedenkwaardihede te steel en toe die manne in Buckingham Palace onthaal is die Kaptein gevra het om te bid en in Afrikaans die manne die dood voor die oë gesweer het as een van hulle iets steel…

    ReplyReply
  2. Boer

    My Afrikaans is heeltemal kak, but yessus you don’t waste a single word. Short and to the point.

    What does ‘afkeer’ mean? Like or dislike?

    I thought craven was a big broederbonder

    ReplyReply