L’EQUIPE: 1995 se Bokke het dwelms gebruik

91
6
SHARE

Die dood van ‘n paar Springbokke kan teruggevoer word na dwelmgebruik in 1995 se Wêreldbeker.

Maroela Media

Die Franse sportkoerant L’Equipe benut die dood van Tinus Linee, `n Springbok uit die jare negentig aan motorneuronsiekte, om skinderstories oor die gebruik van opkikkers deur die Springbokke in die 1995-reeks om die Wêreldbeker op te rakel.

Die blad sê die vraag tree weer na vore watter rol opkikkers in die Bokke se sukses as Wêreldkampioen gespeel het. Hy waag dit nie om die gebruik van sulke middels regstreeks aan van die spanlede se latere neurosiektes te koppel nie, maar sinspeel sterk daarop. Geen mediese getuienis word egter aangebied nie.

Linee het die Springboktrui in die jare negentig nege keer gedra, maar was nie deel van die Wêreldbekergroep nie.

Die koerant sê die senter se afsterwe hou verband met die vreemde “vloek” wat ouer SA toetsspelers getref het. Nes Linee, ly die gewese Springbokskrumskakel Joos Van der Westhuizen aan motorneuronsiekte (Lou Gehrig se siekte noem die koerant dit). Dit is `n degenerasiesiekte, wat volgens die berig normaalweg 1.5 uit 100 000 mense aantas.

Nog `n Wêreldbeker-Springbok van destyds, Ruben Kruger, is in 2010 op 40 aan `n breingewas oorlede. André Venter, wat in 1996 `n Springbok geword het, is in 2006 deur `n skaars neurosiekte, transvers-miëlitis, verlam en in `n rolstoel gekluister.

L’Equipe sê pseudo-kenners het verskeie verklarings hiervoor aangebied, insluitende die stampe en stote van die spel, die onkruiddoder waarmee die rugbyvelde behandel is en volgends die koerant die waarskynlikse rede, die gebruik van opkikkers.

Die berig noem die Springbok-kaptein, Francois Pienaar, se verwysing in sy boek, Aan die einde van die reënboog, na die “stelselmatige” drink van “pille” voor wedstryde. “In die konteks van nasiebou moes die Bokke onoorwinlik wees,” lui die berig. “Pienaar ontwyk nie die kwessie nie en erken dat van die vitamienaanvullers later verbied is.”

Pienaar se verwysing na “die klein houertjies pille” wat deur die spandokter rondgestuur is, het egter betrekking op sy speeldae by die toenterydse Randse Afrikaanse Universiteit en Transvaal. Die middel wat eers heelwat later verbied is, is Reactivan, `n vitamien B12-aanvulling.

Hoe L’Equipe met die pille by die Wêreldbekerreeks uitkom, is nie duidelik nie. Boonop het nie een van die bogenoemde spelers vir Transvaal gespeel nie.

Daar word ook berig dat Kobus Wiese, `n Wêreldbekerslot van destyds, “in April” aan die TV-kanaal France 2 gesê het dat hy, nes die res van die span, Vitamien B12-inspuitings geneem het om gouer van beserings te herstel en tekorte aan te vul. L’Equipe reken dis moeilik te veronderstel dat die hele span aan dieselfde vitamientekort gelei het.

As in ag geneem word dat vitamien B12 en die hormoon EPO (eritropoiëtien) saam die liggaam se werkverrigting verbeter, regverdig dit die vraag oor opkikkers, sê die blad, en kom dan tot die slotsom dat die Springbokke van die jare negentig na `n “verlore geslag” lyk.

EPO word oënskynlik aan die hare bygesleep, want dit word nie vroeër in verband gebring nie.

Bodybuilding.com sê EPO word natuurlik in die liggaam gevorm en stimuleer primêr die vorming van rooibloedselle. Deur die aantal rooibloedselle te verhoog, lewer die bloed meer suurstof aan spiere wat geoefen word. Die bykomende suurstof verhoog die spiere se energielewering wesenlik en help sportprestasie verbeter.

Die middel verskyn op die wêreldagentskap teen dwelms (WADA) se lys verbode stowwe. Volgens ESPN was die eerste betroubare toetse om tussen natuurlike en sintetiese EPO te onderskei eers in 2000 beskikbaar. Dis ook die middel wat later met die fietsrylegende Lance Armstrong en talle ander topfietsryers en -atlete verbind is.

Soortgelyke bewerings as dié in L’Equipe het in Maart vanjaar op die Franse webwerf Rugbyrama verskyn na aanleiding van die TV-program waarna in L’Equipe verwys word. “Dood, party verlam: agterdog oor opkikkers en die Wêreldkampioen van 1995 neem toe. Hulle swyg. En die mite bly ongeskonde,” het die berig begin.

Wiese word aangehaal as sou hy op TV gesê het “wanneer Francois van pille praat is dit niks anders nie as vitamiene B12 of iets dergeliks nie.” Hy het gesê hulle is gereeld getoets, nooit positief nie.

En dan – teen die einde van die berig op Rugbyrama – word genoem dat die TV-joernalis aangedui het dat uit `n wetenskaplike oogpunt geen verband tussen `n neurodegenrasiesiekte en die gebruik van opkikkers bewys is nie. Daar is wel bevind dat EPO “elke keer” saam met vitamien B12 gebruik word om die uitwerking te verbeter.

“En dan: Ons moes die vraag vra, en weer vra, of dit moontlik is dat `n Springbok EPO gebruik het. Dit beteken nie hulle hét EPO gebruik nie, maar dit kan nie uit die oog verloor word nie.”

Facebook Comments
SHARE

6 COMMENTS

  1. The past few months, over the Braai’s we had the same chats, if you look at that generation of players, Joost, Ruben, Basson,Otto Andre and Tinus are having isseus, the idea that they took something that mess them up came across our minds as well..

    Wonder if we will every know!

    ReplyReply
  2. @Jacques(Bunny):

    I think it’s hogwash really… if roids were truly responsible for MND then there would be thousands of cases worldwide and across many types of sport…

    IMO it’s not rocket science that concussions in contact sport are the culprits…

    ReplyReply
  3. @Jacques(Bunny):

    Physicality in rugby and the number of games players play took a serious ramp up in the ’90s.

    Follow the trend from there and most probably, these are cases only the beginning of many more in the next few years.

    ReplyReply