Home Columnists Expert Opinion Meyer se Bokke, sal eg Suid-Afrikaanse Bokke wees

Meyer se Bokke, sal eg Suid-Afrikaanse Bokke wees

13
SHARE

Nuwe Springbok afrigter, Heyneke Meyer, gesels met Hanlie Retief van Rapport oor sy drome, planne en hoe hy al van skooldae af geweet het hy sal eendag die Springbokke afrig.

Hanlie Retief, Rapport

Soos die Bulls se blouforiese wendrie in daardie laaste knersoomblikke van 2007 se Super-14-eindstryd, presies só het dit vir Heyneke Meyer gevoel toe hy eergister sy kontrak as Bok-afrigter teken.

Net voor hy wou moed opgee, toe gebéúr dit.

Net voor die eindfluitjie daai dag op Loftus, toe’t sy manne kringetjie gemaak: Victor, Jaco, Bryan, almal, hand op die hart. En toe gaan máák hulle ’n drie vir hul coach.

Suid-Afrika, hand op die hart, het nou uiteindelik vir Heyneke Meyer as Bok-afrigter.

Twee kanse vir dié top-pos is al by hom verby. In 2004 was hy voorloper op die kortlys. Maar toe onttrek hy om sy werk by die Bulle klaar te maak (“jy drop nie jou manne halfpad nie”). In 2007 was sy hand so te sê op die kontrak, toe knikker politiek hom disnis uit die wedloop.

Drie keer word toe skeepsreg.

“Ek is maar net ’n gewone seun van die platteland wat in rugby beland het oor ek so liéf is vir die sport,” sê hy en daar kom so ’n growwigheid in sy stem.

“Hierdie is… massive vir my. Ek wil nie beloftes maak nie, almal maak beloftes. Wat ek wél belowe is dat ek harder sal werk as enigeen om ’n sukses hiervan te maak.”

Dis die jop wat hy só graag wou hê. Jis, nog áltyd.

Op ’n leierskamp, pas gekies as hoofseun van die Hoërskool Bergvlam in Nelspruit, moes Heyneke en die ander jong leiers die drome vir hul lewens neerskryf. In sy seunshandskrif staan dit daar: Ek wil met Linda trou (hulle’s al van standerd agt af saam).

En: Ek wil eendag die Springbokke afrig.

Hoe sê hy altyd vir sy spelers? As jy nie ’n plan vir jou lewe het nie, maak iemand anders ’n plan met jou lewe.

Op agttien het hy die professionele sportkodes fyn gaan bekyk en toe presies dít gaan swot wat nodig sou wees vir ’n goeie afrigter: onderwys, sielkunde, menslike bewegingskunde.

“Van dag een af het ek gehoop en beplan dat ás die geleentheid eendag vir my kom, ek reg sal wees.”

En nou’s dit hier.

“Vandag het ek die rugbydrome van die land op my skouers gelaai…” sê hy in sy heel eerste onderhoud as Bok-afrigter. “Dis vir my baie persoonlik… Ek is nogal emosioneel.

“As ek groot mag droom, wil ek van die Bokke die suksesvolste span in die wêreld maak. On-oor-win-lik. ‘Dream big,’ sê hulle mos, ‘because big dreams stir a man’s blood.’”

Toe Heyneke jare gelede begin afrig het, het almal gesê sy soort rugby werk nie vir die Curriebeker nie. Toe wen sy span die Curriebeker. Toe sê hulle dit werk dalk vir Cúrriebeker, maar beslis nie in Super14 nie. Toe wen sy span die Super14. Dieselfde manne wat later in die Bokspan die Wêreldbeker gaan wen het, met diesélfde soort rugby.

“Ek wil eie wees aan myself, eie aan my land. Ek soek ’n eg Suid-Afrikaanse span. Ons moet vergeet wat die wêreld sê. As ons óns rugby speel, strawwe, geharde Afrika-rugby, sal die wêreld ons respekteer.”

Waaroor dit éintlik vir hierdie man gaan, hoor jy by almal, is nie die wen nie, maar die ménse. Die kern van Heyneke Meyer se rugby-evangelie.

“Ek wil glimlagte op kinders se gesigte sit, mense in ouetehuise gelukkig maak. Ek coach om ’n verskil aan mense se lewens te maak.”

Die “executives en daai” is ook belangrik, maar vir hom gaan dit primêr oor die rugby-publiek. Veral die kinders. Hulle moet hul groen-en-goud-hempies met trots dra. Dís wat vir hom saakmaak, hoor jy in sy stem.

“Ek wil nooit weer sien hoe ’n seuntjie wat vier, vyf uur wag om ’n handtekening te kry, weggewys word nie. Nooit mag spelers groter as die ondersteuners raak nie. Ek’s nie groot op prima donnas nie. Die span gaan nié prima donnas hê nie.”

Bok-rugby gaan nie oor spelers of afrigters nie. Sê hy weer, sodat ons moet wéét.

“Ek sou so graag wou hê die span moet die land help verenig…”

Hy gee so ’n skewe Heyneke-glimlaggie.

“Maar daarvoor moet jy wen…”

As jy wil weet wie’s Heyneke Meyer, gaan druk die rewind-knoppie tot by 1997, tot by die streekspannetjie van die SWD-Arende.

Rugby het pas professioneel geword. Heyneke was klub-afrigter by Normaalkollege in Pretoria, ’n nobody. SWD was ’n nobody-span wat sy vorige wedstryd 140-8 teen Noord-Transvaal verloor het.

Hy’t die geleentheid om hulle af te rig, aangegryp. Dis sy groot kans, het hy besef. “Toe ek uit my werk bedank, het almal gesê ek’s mal. My vrou, pas klaar met haar doktorsgraad, het langverlof gekry en ons het pad gevat Oudtshoorn toe.”

SWD was ’n span “vol rejects wat niemand wou hê nie”, maar Heyneke het hulle van meet af aan professioneel bestuur, kampe gehad voordat daar nog so iets was in rugby, spelersprofiele getoets, alles. Hy’t help gras natgooi, nommers op truie vasgewerk, al die pad hardepad.

’n Seisoen later het SWD vir die eerste keer in 100 jaar die halfeindronde van die Curriebeker gehaal.

Wat Heyneke daar met sy reject-span vermag het, was soos om ’n Wêreldbeker te wen.

En die lekkerste vir hom? “Om weer daai stadiontjie vol te kry. Toe ons daar aankom, was die stoele leeg. Toe begin ons wen, en die buurdorpe begin oorry. 10?000, 15?000 mense. Ons het gróót spanne geklop daai jaar. Great tye.”

Die Bulle was sy volgende uitdaging… “?’n Begraafplaas… niemand wou Bulle toe gaan nie. Twaalfde in die Super14, elfde in die Curriebeker. Daar’t ek met jong spelers iets begin bou.”

Tien jaar later was daar ’n blou empaaier.

En nou wil Heyneke Meyer weer die goud langs die groen in ere herstel. “Nie ek nie,” keer hy weer blitsvinnig, “jy kan dit nie alleen doen nie. Dis die land se span.”

Dalk móés hy nie die Bok-pos in 2007 gekry het nie, sê hy dan, stiller. “Dalk was ek nog nie gereed daarvoor nie…”

Hy glimlag, dink terug. Hy’t toe gereken Bok-coach sou maklik wees. Die Bokke was in hul fleur, hy’t baie van die spelers reeds tien jaar by die Bulle afgerig. “Ek het geweet ons kon onoorwinlik wees.

“Vier jaar later begin ek nou heel voor met ouens wat ek nie ken nie. Ek kan nie wag nie.”

Die jare ná 2007 was swaar tye vir Heyneke. Sonder die Bok-pos, reeds weg by die Bulle, is hy uiteindelik Engeland toe om Leicester Tigers af te rig. Sy gesin het ses maande later by hom aangesluit. Hulle was skaars daar, toe kry sy skoonma – ná ’n remissie – weer kanker. Twee dae later is sy skoonpa óók met kanker gediagnoseer. Heyneke het bedank om sy familie in Suid-Afrika by te staan. Albei sy skoonouers is binne ’n jaar oorlede. “Ek moes besluit: Bly ek en stuur geld huis toe, of kom ek terug en is dáár vir my skoonouers en vrou. Die Tigers was só ondersteunend, en ek voel vandag nog sleg dat ek hulle in die steek moes laat.”

Terug in Suid-Afrika het hy ’n sportonderneming begin. “Maar ek bly ’n rugbyman, nie ’n sakeman nie, en toe die Bulle my weer nader, het ek nie gehuiwer nie.”

Op die einde, sê hy, werk dinge ten beste uit. “Ek is nou, regtig, gereed om die Bokke te coach.”

Die moeilikste deel van die Bok-pos is dat hy die Bulle moes los, sê hy. Hy is ná aan hulle, hy’t mense daar aangestel wat deur mure vir hom sal loop. Daar’s nou strepe SMS’e vir hom uit daardie kamp. Victor Matfield het dadelik laat weet hy sal weer stewels aantrek vir sy coach. (“Victor is goed genoeg om nog tot op 36 te speel. Ek wil nie te veel sê nie, maar hy sal vir seker deel wees van my planne.”)

Sy streekspan. Sy gesin. Die nasionale span.

“Jy voel bietjie in drie geskeur. Maar jou liefde vir jou land weeg op die einde die swaarste,” sê hy.

Gaan die Bokspan nou ’n Bulspan wees?

“Inteendeel. Dit gaan eerder teen die Bulle tel, want as dit ’n 50/50-besluit is, kies ek eerder die ou wat nié ’n Bul is nie. Ek wil nie gesien word as ’n afrigter wat sekere spelers bevoordeel nie. Ek gaan die beste spelers kies, die span wat gaan wen. Daar’s geen sentiment nie.”

Sy kaptein? “’n Week-vir-week-besluit. En hy moet eerstens sy plek in die span verdien.”

Heyneke Meyer is ’n gebore motiveerder. Sy spanpraatjies en -stories is legendaries. “Ek praat net uit die hart uit,” sê hy. “Spelers steek aan as jy opgewonde is, as jy wil wen.”

Daar’s sy storie van die seuntjie wat vra hoekom die ooms nie sambrele saambring as hulle vir reën bid nie, sy storie oor die harte wat die Bulls in 2007 oor die laaste hekkie gehelp het.

Sy eerste spanpraatjie vir sy nuwe Bokspan? Lankal uitgedink, lag hy, dié bêre hy nou al, veilig, spesiaal, in sy kop van 2007 af.

’n Hoogtepunt vir hom was toe hy met die Bulls se 2007-wedstryd teen die Reds se span, teen alle logika in, oortuig het niks is onmoontlik nie. Hulle kán met 72 punte wen om tweede op die rangleer te eindig.

“Ek sê vir die manne, luister, dis maklik. Dis net 13 drieë, drie vir Bryan, twee vir Akona en Johan (Roets). En ek soek nog ses.”

Pierre Spies steek sy hand op vir twee. En Heyneke skryf alles neer. Hoeveel lynstane hulle moet vat, hoeveel skoppe Derick moet oorskop. Alles.

“En ek sê: Hoe moeilik is dit nou vir ’n span soos julle?”

En daar gaan wen die Bulls 92-3.

Vir Heyneke Meyer.

“Moet nooit opgee op jou drome nie, glo ek nog altyd.”

En dis ook sy eie storie: onder moeilike omstandighede het sy drome waar geword.

Sy vrou is eersdaags op pad Argentinië toe om haar 11de bergpiek uit te klim. Haar kanker is in remissie, sy’s topfiks. “Sy’s my inspirasie, sy’s ’n vegter, ’n oorwinnaar. Sy leef voluit. Met die Bok-pos het sy my oortuig: Gryp jou kans, Heyneke, gryp hom.”

En dis wat dié man met die vuur in sy oë gaan doen. Vir sy vrou, vir sy Bokke, vir Suid-Afrika

Leave a comment

13 COMMENTS

  1. Ek het in my standard 7 jaar ‘n afrigter gehad met die naam van Jimmy Stonehouse, die ou kon ons span ook so opsweep….onthou nog hoe ons Ligbron 64-0 gewen het, Piet Retief 98-0. Elke vrydagaand voor a game het ons by Jimmy se huis gaan eet, en rugby songs gesing en as span verening…..ek is seker ou Jimmy doen dit nog daar by die Pumas vandag

    Sekere afrigters is goed maar ander is net daai een vlak hoer wat jy nie kan beskryf nie……

    Dink ons gaan daai greatness in Meyer he en in die span….

  2. Jinne, ek moes effe sluk van emosie, na ek DIE gelees het.

    Heyneke, is die man op wie ons hoop nou gevestig is en ek twyfel nie ‘n oomblik dat hy sy gaai gaan afwerk om die Springbokke suksesvol te maak nie.

    Ek ondersteun hom met oorgawe!

    ‘n Goeie, nee uitstekende rugby coach is ‘n besieller, ‘n motiveerder, ‘n man manager, ‘n sterk karakter, ‘n ambassadeer… en Heyneke Meyer het al DIE talente.

  3. Going to be a tough first year for the Boks… England first-up are brimming with talent (albeit no coach yet)… NZ are well… NZ… and the young Aus team have lost none of their players and Deans has had the Bok’s number for quite some time…

    It’s one thing to be inspiring (the Boks always have a ‘gees’ win in them each year)… it’s another to be dominant…

    Depending on political meddling, assistants permitted and the impending Kings debacle… there is no reason why HM won’t have the Boks back as a force in 2013…

    2012 is about rebuilding…

  4. Ja Bryce but with an attitude like that it is just going to improve and improve..

    Just one error from Hanlie no doubt.

    The 2007 S14 final was in Durban… I know I was there…

    And I was torn for the devastated Sharks supporters but similarly enjoyed the jubilant Bulls boys…

    That game epitomized everything cool about our country.

    Brilliant cultural mix of supporters… an outstanding seesaw game, forwards trying to kill each other (Jacques Botes sprinting cleanout of Bakkies stands out!) and backs tackling the beejayzus out of each other.

    And a moment of brilliance from top of his game Bryan Habana…

    And a celebration afterwards between all the different fans that lasted till the early hours of the next morning… and saw the game’s moments replayed over and over and over in narratives fueled by Brandy and Coke

  5. Reply to bryce_in_oz @ 1:33 pm:

    Jip, you must be talking about that knock-on.

    Heyneke has one hell of a job in front of him.
    Will be interesting who he selects for those
    empty spots, including just about the whole
    backline if you include Habana and JPP.

  6. Reply to bryce_in_oz @ 1:33 pm:

    By an alcoholic New Zealander who’s now adopted Australian citizenship…

    That was coincidentally a Pierre Spies knock I think… I recall our poster Charley (who is family of Adi Jacobs) having a fearsome hissy fit that Monday morning!

    Hmmmm

  7. Number 1 player in the world against the number 2… for the third consecutive final in a grand slam… 2 sets all and 4 games all and deuce… crazy!

  8. Can’t help the feeling tha this piece is like the propaganda we used to get fed in the old apartheid days to make some of us feel good and believe everyting is going to be alright. Meyer is no doubt a talented coach who has had to live with tragedies in his personal life but let’s focus on how he is going to make up for months of lost time. Deans was re-appointed before RWC 2011 and Hansen in early November and the guy who wasn’t even SARFU’s first choice it seems is now having to pick up the pieces as S15 begins. Then just to add to all the uncertainty SARFU drop the Kings thing on SA rugby too. :shitfan:

  9. Reply to out wide @ 11:33 pm:

    It does have the feel a bit… much like Snor and the promises which never came to fruition right from day dot (remember the national ladder/pecking order of players)… but by stating/inferring he won’t simply be discarding players (read experienced capped players) he’s certainly giving himself a fighting chance from the first incoming tour…

    12 tests this season… one win out of four against NZ and Aus and one loss on the EOYT (or one against England at home) and he’s at 67% for the year which is more than acceptable considering the last coach’s record…

Comments are closed.